top of page
Lees Meer
Painting.jpg

MEER OOR RIEKERT EN PIPPA

Riekert
Pippa
Riekert and Pippa Botha

Ons was baie jonk toe ons trou maar ons was smoorverlief en oortuig dat Jesus ons huwelik goedkeur. Albei van ons was nog studente en het die studies, die bediening en die huwelik soos balle in die lug probeer hou. In daardie eerste jare het ons geleer om Jesus eerste te stel in alles en ons huweliksmaat te koester.

 

Ons was 5 jaar by Logos Gemeente in Bellville en het die werkende jongmense bedien. Daarna is ons Ukraine toe waar ons nog 5 jaar gebly en bedien het. Ons twee seuntjies was een en drie jaar oud toe ons sak en pak na dìe verre land vertrek het. Ons dogter, Katelyn, is gebore terwyl ons in die Ukraine gebly het.

 

Riekert het die eerste jaar klas gegee by die kerkplantings instituut in Kiev en die daaropvolgende 4 jaar het ons, saam met ‘n plaaslike kerkinstansie ‘n gemeente geplant in Chernigov. Hierdie was sekerlik die moeilikste jare van ons lewens maar ons sal dit vir niks verruil nie! Jesus het ons gestroop en genees en ons harte gevestig op Hom bo alles.

Na 4 jaar in Chernigov kon ons, saam met ons span, ‘n gemeente plant, met ‘n plaaslike voorganger. Daardie gemeente het nog 4 gemeentes in die dorpies rondom Chernigov geplant.

 

Ons het op daardie stadium ‘n beroep na Vredendal aanvaar. Die Vredendal Baptiste gemeentetjie het ‘n hele paar jaar sonder ‘n predikant gefunksioneer en was slegs 11 lidmate sterk. Ons het 15 jaar daar bedien en in daardie tyd het Riekert op RSG begin gesels met Derrik op sy program, “Pleisters vir die Siel”.

 

Die gevolg van daardie radio program was iets wat net Jesus kon bemagtig en ons het Hom deur die hoogtes en laagtes gevolg. Die koste van dissipelskap is

hoog maar die vreugde wat Jesus gee is salf vir elke wond.

Ons het al 4 ons ouers versorg in hulle laaste lewensjare en 3 ouers binne 9 maande verloor. Ons kinders het skool voltooi en universiteit begin en ons het getrek na Vermont om nader aan ‘n lughawe te wees. In die laaste 7 jaar het ons familie met vyf gegroei… ons het drie wonderlikste skoonkinders en twee dierbaarste kleinkinders ryker geword.

 

Riekert het vir 10 jaar deur SA gereis en in skole en gemeentes bedien maar aan die einde 2022 het ons beleef dat Jesus sê daardie hoofstuk is verby. 2023 het ons deur die Afrika lande suid van die Sahara gereis en sendelinge en plaaslike kerkleiers besoek om hulle te bemoedig in hulle roeping om Jesus as hulle eerste fokus te behou.

Dit was ‘n besondere reis en het, soos verwagting, diep spore in ons harte gelaat.

2024 bevind ons tuis by L’Abri waar ons elke maand ‘n paar reise van ‘n ander aard meemaak. “‘n Reis in die voetspore van Jesus” is ‘n week van afsondering, waar 10 mense saam met ons, elkeen ons hart deursoek, met die doel om Jesus as hoof fokus en Here te stel.

 

Ons gaan aan met die Woordskool op Maandagaande in die DeWetsaal in Onrus en Riekert doen getrou sy leringe op YouTube.

 

Ons leef in ‘n dramatiese tyd en die druk om ons oë van Jesus af te haal, is intens. Ons gebed is dat Jesus ons sal beskerm en ons by Hom sal hou.

 

Daar is geen lewe buite Hom nie.

Ons klou verbete aan Hom vas en dien Hom met ons lewens.

bottom of page